Baie van die emigrante is afhanklik van hul lewende annuïteite vir inkomste máár word volgens Suid-Afrikaanse wetgewing nie toegelaat om die lewende annuïteit ten volle tot niet te maak of na die buiteland oor te plaas nie.
Die verswakking van die Rand bring mee dat die maandelikse inkomste van Suid-Afrikaanse emigrante in byvoorbeeld Australië die afgelope twee jaar met 23% verswak het,
“Die annuïtant word toegelaat om tussen 2,5% en 17,5% inkomste ’n jaar te trek en dit is opvallend dat emigrante deesdae dikwels die maksimum bedrag onttrek om hul lewensstandaard in die buiteland te handhaaf,” sê Ryno Viljoen, besturende direkteur van cashkows.com wat in finansiële emigrasie spesialiseer.
Dit kontrasteer met die gemiddelde onttrekking van lewende annuïteite in Suid-Afrika waar die onttrekkingskoers die afgelope jare beduidend gedaal en verlede jaar op ’n gemiddelde onttrekkingsvlak van 6,99% gestaan het, aldus Peter Dempsey, adjunk uitvoerende hoof van die Vereniging van Spaar en Beleggings van Suid-Afrika (ASISA).
Die groot onttrekkings van buitelanders is ook ’n doring in die vlees van Nasionale Tesourie wat tans die wetgewing oor aftreebeplanning ondersoek en sterk ten gunste van laer onttrekings uit lewende annuïteite is.
Die Nasionale Tesourie is veral bekommerd dat groot onttrekkings uit lewende annuïteite kan beteken dat ’n polishouer se kapitaal opdroog en dat die persoon van die staat afhanklik word.
“n Emigrant se finansiële welsyn is nie die Suid-Afrikaanse regering se verantwoordelikheid nie. Die nuwe gasheerland het die verantwoordelikheid ten opsigte van die emigrant oorgeneem en dit geld ook sover dit die finansiële verpligtinge betref,” sê Viljoen.
Uit besprekingsdokumente blyk dit ook dat Nasionale Tesourie meen dat die samestelling van ’n lewende annuïteit ’n komplekse polis is en dat keuse beperk moet word om die polishouers te beskerm.
Aftreefondse val onder die Pensioenfondswetgewing en word deur ’n Raad van Trustees bestuur. Die voorstelle van Nasionale Tesourie is nou dat die Trustees van elke aftree-fonds sekere verpligte produkte moet identifiseer waarin die pensioenfondslede moet belê. Dit kan ook gewaarborgde produkte behels.
“Die implikasie is dat die trustees verpligte produkte kan kies wat die veiligste en maklikste is om in te belê. Dit sal heel moontlik groot beleggingshuise behels, waar die risiko versprei word en die beginsel van saamstorting (pooling) geld.
“Dit kan beteken dat die opbrengs van die produkte laer sal wees vanweë die laer risiko en dat meer Suid-Afrikaanse produkte pleks van globale produkte gekies sal word. Die emigrant behoort egter groter blootstelling te hê aan internasionale produkte of produkte van die gasheerland.
“ Wetgewing van die aard sal die tipiese emigrant verder blootstel aangesien die groei van sy kapitaal laer sal wees deurdat hulle verplig sal wees om in voorgeskrewe produkte of fondse te bele,” sê Viljoen.
Batebestuurders en ekonome verwag in die afsienbare toekoms opbrengste van tussen 5% en 10% volgens Dempsey en die risiko is dus klein dat plaaslike polishouers met onttrekkings van sowat 7% hul kapitaal sal opgebruik,
Dit is egter ’n ander situasie met emigrante wat genoop is om groter onttrekkings in die buiteland te maak.
Die grootskaalse onttrekking deur emigrante bots ook met die algemene oogmerk van ’n lewende annuïteit naamlik om ’n volhoubare inkomste lewenslank te verskaf.
Die daling in die plaaslike onttrekkingskoers van lewende annuïteite skryf Dempsey grootliks toe aan die vorige verlaging in die amptelike onttrekkingskoers en groter ingryping van kliënte se finansiële adviseurs wat oor die algemeen laer inkomstevlakke kies.
Die finansiële adviseur se onttrekkingskoersvoorstel is dikwels gebaseer op Suid-Afrikaanse omstandighede wat ontoepaslik oorsee is. Dit is ook baie moeilik vir ’n plaaslike adviseur om ’n kliënt, wat intussen geëmigreer het, te adviseur oor ’n land waarvan hy moontlik min weet.
Syfers van ASISA toon dat die lewende annuïteitsmark geweldig groot is en dat R155,2 miljard verlede jaar in sowat 278 000 lewende annuïteite belê was. Die afgelope jaar is alleen R23,9 miljard in lewende annuïte belê.
“Verbruikers wat nie genoeg geld vir hulle aftrede gespaar het nie, wend hulle ongelukkig om die verkeerde rede tot lewende annuïteite. Die onttrekking van hoër inkomste uit ’n lewende annuïteit kan iemand sonder genoeg aftreekapitaal in die vroeë jare help om ’n sekere lewensstyl te handhaaf. Ontbering sal egter volg sodra die kapitaal oor ’n kort tydperk uitgeput word,” sê Dempsey.
Die bespreking rondom aftree-hervorming bied egter die ideale geleentheid aan die regering volgens Viljoen om emigrante meer tegemoet te kom en hulle toe te laat om hul lewende annuïteite ten volle tot niet te maak net soos in die geval met voorsorgfondse. Dit sal risikofaktore buite emigrante se beheer soos valuta- en inflasierisko verminder.
“Dit sal ook die regering in staat stel om dadelik addisionele belasting van emigrante te verhaal. In plaas van die huidige regime waarop belasting verhaal word vanaf die annuiteit (inkomste) gedeelte oor die termyn van die lewende annuiteit, kan belasting eerder eenmalig verhaal word vanaf die kapitaal, wat ‘n beduidende inspuiting vir die fiskus sal wees. Dit is ‘n wen wen situasie vir die regering en vir emigrante wat beplan om in die buiteland af te tree,,” sê Viljoen.
Vir verdere inligting kontak:
Ryno Viljoen 0828517384

No comments:
Post a Comment