cashkows.com

cashkows.com

Wednesday, 15 August 2012

Finansiële Emigrasie: Testamente en intestaat vererwing met emigrasie


Wanneer jy na Australië verhuis sal jy vind dat alles is dieselfde, net heeltemal anders . . . Ons weet almal hoe verskillend Engels geinterpreteer kan word: “traffic light” in plaas van “robot”, ‘n “bakkie” word ‘n “ute” genoem, ens. Boedelbeplanning is nie ‘n uitsondering nie, en soos die ou gesegde lui :”die enigste ding waarvan jy seker kan wees is die dood en belasting”. Jou testament is die beste manier om te verseker dat jou wense uitgevoer sal word in die geval van dood. ‘n Bestaande Suid-Afrikaanse testament sal heel waarskynlik nie geldig wees in Australië vir die afhandeling van jou boedel nie.

Indien ‘n persoon bates in Australië  besit en sonder ‘n geldige testament tot sterwe kom, sal sy boedel as intestaat beskou word. Die afgestorwe persoon se bates sal dan streng volgens statutêre reëls hanteer word; in sommige gevalle, in die afwesigheid van naasbestaandes, kan dit ‘n onbeplande en onbedoelde geskenk aan die Staat tot gevolg hê.  In die lig van die intestaat opvolgings reëls, sal die Staat ‘n administrateur aanstel om die bestorwe boedel te administreer en af te handel.  Die resultaat kan natuurlik dan wees dat die persoon wat in daardie rol aangestel is, die bates verdeel sonder dat dit 
noodwendig ooreenstem met die wense van
die afgestorwene.


Intestate afsterwe se praktiese uitvoering beteken dat, indien die afgestorwe persoon ‘n gade en kinders sou nalaat, die gade geregtig is op die eerste $100 000 uit die boedel, terwyl die restant dan gelykop verdeel sal word, 50% aan die gade en 50% aan die kinders. In die geval van minderjarige kinders (jonger as 18 jaar), sal hulle gedeelte deur die Publieke Trustee gehou word totdat hulle die ouderdom van 18 jaar bereik.

‘n Eenvoudige oplossing om jou risiko te verminder om intestaat te sterf, is om jou eie testament op te stel of ‘n standaard testament te koop in die vorm van ‘n “will kit” – veral as dit eenvoudig is in terme van beide die bates sowel as die begunstigdes. Ons beveel egter ten sterkste aan dat jy gebruik sal maak van ‘n regspersoon in hierdie verband.

Dit is uiters belangrik om te verstaan dat mense se omstandighede en wense verskil en jy moet veral ekstra versigtig wees indien jy geemigreer het met minderjarige kinders.

‘n Volledige testament in Australië moet veral die volgende drie aspekte aanspreek:

  • Maak jou wense duidelik met betrekking tot jou bates in die geval van jou dood,
  • Die aanwysing van ‘n Voog – ‘n Persoon wat deur jou aangestel word om jou minderjarige kinders se sake te behartig. Jy kan enige spesifieke faktore wat jy graag wil hê hierdie voogde in gedagte moet hou in die opvoeding en grootmaak van jou kinders  in ‘n aparte Memorandum van Wense stipuleer.
  • Jou lewende testament bemagtig ‘n persoon om namens jou te handel indien jy ongeskik daartoe verklaar sou word (gewoonlik onverwags en baie jare voor jou dood)

In die meeste gevalle sal slegs jou bates in Suid-Afrika onderworpe wees aan boedelbelasting, ongeag jou residensie status. Sodra jou belasting emigrasie geaktiveer is sal jou buitelandse bates vrygestel wees van boedelbelasting, d.i. jou bates bv in  Australië .
Alhoewel boedelbelasting in Australië nie van toepassing is nie, moet kapitaalwins belasting egter in ag geneem word in jou boedelbeplanning.

Dit is dus uiters noodsaaklik om jou belasbare Suid-Afrikaanse boedel te skei van jou nie-Suid-Afrikaanse boedel (vrygestel van boedelbelasting). ‘n Geldige Suid-Afrikaanse testament kan jou erfgename beskerm teen ‘n lang en omslagtige proses om die Meester van die Hooggeregshof (in Suid-Afrika) te oorreed om nie net ‘n gesertifiseerde afskrif van jou Australiaanse testament te aanvaar nie, maar ook jou Australiaanse eksekuteur.

Die Meester mag die Australiaans aangestelde eksekuteur aanvaar sonder om die normale prosedures te volg, op voorwaarde dat die afgestorwe persoon nie in Suid-Afrika woonagtig was nie en dat daar nie in sy/haar boedel Suid-Afrikaanse vaste eiendom ingesluit is nie. Die buitelandse eksekuteur is verantwoordelik (soos in alle gevalle) om ‘n finale belasting opgawe en boedelbelasting opgawe in te dien.

‘n Uittredings annuiteit in Suid-Afrika vorm nie gewoonlik deel van jou wense in jou testament nie. In sekere gevalle kan die trustees van die betrokke fonds besluit oor die begunstigdes en moontlik selfs  jou wense verontagsaam , veral indien jy getroud is en in die geval van minderjarige kinders. Soos in ‘n vorige uitgawe bespreek, beveel ons sterk aan dat alle eks Suid-Afrikaners navraag behoort te doen en uit te vind of hulle nog uittredings annuiteite in Suid-Afrika het. Vir verskeie redes mag dit tot jou voordeel wees om hierdie fondse te onttrek en oor te plaas na Australië .  Jy het nie nodig om  aftree ouderdom (55 jaar en ouer) te bereik nie, verder benodig jy ook nie permanente verblyfsreg of burgerskap in Australië  nie.

Jou testament (beide in Australië en/of Suid-Afrika) behoort gereeld hersien te word en op datum gebring word om jou veranderde omstandighede in ag te neem. Jou testament is seker die belangrikste regsdokument wat die gemiddelde persoon ooit kan teken.Sonder een sal die hof  - en nie jy nie – besluit wat gebeur met jou bates.  Hulle kan selfs besluit wat gebeur met jou kinders.

No comments:

Post a Comment