Suid-Afrikaanse sakelui in die VSA behaal baie sukses met die herstrukturering van skuld van Amerikaanse maatskappye en kry boonop die geleentheid om permanente verblyfregte in die VSA bekom.
Suid-Afrikaners is meer gewoond om kontantvloeikrisisse te hanteer en vind ’n leemte aan kennis en moontlik die bereidwilligheid onder Amerikaners om skuld te konsolideer en besighede te herstruktureer.
Van die bekende sakelui in San Diego, Kalifornië, is Paul Venter, entrepreneur wat onder meer I-Find, die eerste mobiele gids in Afrika, gestig het en die operasionele hoof van Yonder Media en Ringco in Suid-Afrika was, en Kevin Potter wat oud-stigter van IQ Business Group, uitvoerende hoof van Fedsure Healthcare, finansiële hoof van Tiger Brands asook uitvoerende hoof van Sandbox Technologies was.
Die Suid-Afrikaners is veral suksesvol met die koop van teëlhandelaars in Kalifornië wat vir Suid-Afrikaners ’n bekende soort besigheid is en wat relatief maklik geherposisioneer kan word.
“In Amerika is groot geleenthede om besighede te koop wat in die knyp is. In die spesifieke marksegment waar ons is, het die tipiese besigheid se omset van $15 miljoen na $3 miljoen geval. Oor die tyd is sommige krediteure nie betaal nie en daar is skuld van sowat $200 000. Die eienaars het dikwels persoonlike blootstelling wie se huise teruggeneem sal word as die besighede vou. Dit bied die geleentheid om eienaarskap teen ’n lae koste te verkry en die nodige herstrukturering te doen – mits die omset gegroei kan word om die waarde vinnig te ontsluit.
“Die maatskappy sal gekoop en die skuld geherstruktureer word. In ’n tipiese geval sal 20c in die dollar betaal word en ’n kapitale inspuiting van sowat $300 000 gegee word, om die kontantvloeisituasie te verbeter. ’n Deel van die strategie is om die groepstruktuur te gebruik om die maatskappye winsgewend na die herstrukturering te maak.” sê Venter.
Die strategie skakel in by die EB-5 immigrant beleggingsvisum van die VSA waar beleggers Green Cards (verblyfregte) kan kry as in sukkelende besighede of in nuwe besighede in die VSA belê word.
’n Vergelyking met vier ander tipiese emigrasielande vir Suid-Afrikaners nl. Brittanje, Nieu-Seeland, Kanada en Australië toon dat die VSA se beleggingsvereiste van R4 miljoen die minste is en dat die verblyfregte in die VSA ook binne twee jaar verkry word terwyl van die ander lande eers permanente verblyfregte na vyf jaar goedgkeur.
Die sukkelende besigheid van die VSA moet reeds vir twee jaar bestaan en ’n verlies vir minstens twaalf maande gelykstaande aan minstens 20% van die waarde van die maatskappy gemaak het.
“Die immigrant-belegger moet die aantal werksgeleenthede vir minstens twee jaar behou en ’n mate van regstreekse betrokkenheid in die besigheid handhaaf - hetsy aan die bestuurskant of op raadsvlak,” sê Ryno Viljoen, besturende direkteur van cashkows.com wat in finansiële migrasie spesialiseer.
Die bedrag wat die immigrant-belegger in die sukkelende besigheid moet belê is volgens Viljoen sowat R4 miljoen as die besigheid in ’n “targeted employment” area is wat hoë werkloosheid het óf buite die meeste sakekerns geleë is. Indien dit buite die voorgestelde werksarea is, word ’n belegging van sowat R8 miljoen vereis.
‘Nuwe besighede kan ook onder die EB-5 visumprogram gevestig word. Werk moet onder die program vir minstens tien Amerikaners geskep word. Dieselfde beleggingsbedrag en -areas geld vir nuwe besighede as wat vir sukkelende besighede geld,” sê Viljoen.
’n Immigrant-belegger kan ook verkies om in een van die Streeksentrums in die VSA te belê, as die belegger nie regstreeks by die besigheid betrokke wil raak nie. Die sentrums is onafhanklike ekonomiese eenhede wat werk vir minstens tien mense met die R8 miljoen of R4 miljoen (in ’n voorgestelde werkarea) moet skep.
Die EB-5 immigrant-beleggersvisum word aan die aansoeker en die gesin (kinders tot ouderdom 21 jaar) toegestaan vir ’n tydperk van twee jaar. As al die vereistes insame byvoorbeeld werkskepping nagekom is, word ’n Green Card uitgereik wat permanente verblyf- en werkgeleenthede aan die gesin toeken.
Die Immigrant-belegger moet die belegging vir minstens vier jaar in die besigheid hou en kan dit daarna onttrek of die besigheid verkoop. Die Green Card is reeds toegeken en die onttrekking sal nie die verblyf- of werkgeleenthede raak nie.
Die EB-5 visum kan egter geweier word, as die aansoeker byvoorbeeld ’n misdaadrekord het, lid van ’n kommunistiese of totalitêre party is, skuldig bevind is aan geldsmokkel of aan ’n oordraagbare siekte soos vigs of tuberkulose ly.
Die EB-5 roete kan die deure na die VSA vir ’n gesin open aangesien die gesinslede ook by die nuwe besigheid kan werk. Die EB-5 aansoeker en gesindlede tel egter nie onder die vereiste werksgeleenthede nie en die aansoeker moet steeds Amerikaners in diens neem om die kwota werksgeleenthede te vul.
Die Amerikaners is volgens Venter baie produktief en daar is nie dieselfde beperkende arbeidswetgewing of regulatoriese wetgewing vir kleiner maatskappye soos in SA nie.
“In die VSA is sekere administratiewe aspekte van besigheid maklik en dit het my byvoorbeeld vier ure geneem om ’n nuwe maatskappy via die internet op te stel wat voldoen aan al die vereistes en selfs by die belastinggaarder geregistreer is,” sê Venter.
Sakelui help mekaar voortdurend en daar is nie ’n skaarsheidsmentaliteit waar sakelui bang is ander sakelui steel die betrokke mark of idee nie.
Ander lande het ook beleggersvisums soos:
● Brittanje se Tier 1 visum waar ’n belegger en die gesin verblyfregte na vyf jaar kan
kry deur sowat R14 miljoen in Brittanje te belê. Dié visum word toenemend deur
welaf immigrante van Rusland, Sjina en die Midde-Ooste gebruik.
● Nieu-Seeland se Investor 2 visum vereis ’n belegging van sowat R11 miljoen vir vier
jaar wat verblyfregte verseker. ’n Verdere vestigingsbedrag van sowat R7 miljoen
moet ook beskikbaar wees. Die belegger moet ook vir die drie laaste jaar minstens
146 dae ’n jaar in Nieu-Seeland woon.
● Kanada se Immigrant Investor Program behels ’n belegging van sowat R7 miljoen
wat na ’n tydperk van vyf jaar sonder rente aan die immigrant terugbetaal word. Die
immigrant moet ook sake-ervaring KAB bewys en ’n netto batewaarde van R14
miljoen kan toon. Die visum word tans hersien.
● Australië het verlede maand die Significant Investor Visa bekend gestel. Die
beleggers moet sowat R46 miljoen in Australiese effekte, aandele of gereguleerde
bestuursfondse vir vier jaar belê. Die belegger moet minstens 160 dae van die vier
jaar in Australië woon en is ’n poging om welaf individue met internasionale sake-
ervaring te lok.
|
|
Beleggings
… om ’n paspoort te koop
|
|
Land
|
Belegging
(Miljoen Rand)
|
Permanente
verblyf na
|
VSA
|
4
|
2 jaar
|
Brittanje
|
14
|
5
|
Nieu-Seeland
|
11
|
4
|
Kanada
|
7
|
5
|
Australië
|
46
|
4
|